Die uitruilprojek bestaan uit twee bene. Gedurende September besoek ses dogters en twee seuns, vergesel van twee opvoeders, Växjö Fria Gimnasium in Swede. In Februarie van elke daaropvolgende jaar word die Sweedse groep hier ontvang, waarna ʼn nuwe groep gekies word.

In 2017 was die verbintenis met Växjö Fria Gymnasium reeds 12 jaar oud en dit is met dank aan veral die hoofde van die twee skole, Maria Blom en mnr. Roelof Oosthuizen, dat die projek van krag tot krag gaan. Ons koester hierdie projek, omdat dit ʼn wonderlike geleentheid aan leerders bied om die buiteland te besoek en om nuwe en hegte vriendskapsbande te smee.

Die 2017-2018 groep het op 21 September blinkoog op Växjö-treinstasie aangekom en vanaf die aankoms het dit geblyk dat dit weereens ʼn besondere groep sou wees. Die groep is op ʼn toer deur die relatief klein stadjie met sy ryk kulturele erfenis en tradisies geneem. Ons het die eerste naweek ‘n heerlike moose-safari beleef en die Vaxjo-Lakers se yshokkiewedstryd in die stadion gaan kyk. Ons het meer van hul kultuur beleef deur hul skool te besoek, ons kon zipline in hul woude, fietsry, het spanbou-aksies gehad en verskillende dorpies in die omgewing besoek. Met die terugkeer na Suid-Afrika het die groep ʼn besoek aan Amsterdam gemaak waar die fietstoer, Madame Tussauds en ’n kanaalvaart hoogtepunte was.

Vanaf 9-23 Februarie 2018 besoek die Sweedse groep Suid-Afrika en sal hulle met eg Suid-Afrikaanse kultuur en aktiwiteite kennismaak. Hierdie uitruilaksie sluit ook gemeenskapsdiens aan Regorogile Ikageneg, ʼn kleuterskool in Ikageng, in. Die leerders beleef onder andere ook ʼn tipiese Suid-Afrikaanse skooldag en die jaarlikse Valbal. Verder word verskeie geleenthede geskep om ons unieke wildlewe te besigtig. Verrykende leer vind deurgaans plaas terwyl die groep op ʼn informele sosiale vlak interaksie geniet.
 

 
 

 

 
 

Die webtuiste is ontwerp en word met trots onderhou deur GSD Potch - The WEB mense...  - www.gsdpotch.com