Gimmie-Kunste en Sosiaal

Gimmies se kultuurdepartement laat leerders tuis voel agter die mikrofoon, op die verhoog en in die kollig en almal is welkom om deel te neem aan enige van die aktiwiteite wat aangebied word.

Valbal en Sokkies

Gimmies bied jaarliks ‘n Valbal vir seniorleerders (gr.10-12) aan wat ’n hoogtepunt op die sosiale kalender is. Dié geleentheid het elke jaar ‘n unieke tema en word by ‘n venue in die dorp aangebied. Daar word sommer al vroeg-vroeg aan uitrustings en dates beplan. Ander sosiale aksies wat ‘n groot lekkerte is, is sokkies wat kwartaalliks deur die Gimmieraad gereël word. Sokkies wissel tussen Impala, die saal en aantreevierkant. Elke sokkie het ook kosstalletjies waar jy na hartelus kan smul terwyl daar gekuier en gedans word.

Dramaklub en
Toneel

Die Dramaklub bied die geleentheid om ‘n globale idee van teater te ervaar. Gimmie-toneel bied akteurs en aktrises die geleentheid om hulself met selfvertroue op die verhoog uit te leef. Leerders kan ook deel van die tegniese span wees.

Vir enige navrae kontak gerus vir Elbie Buys by 082 092 6295.

Top 10-toer

Die top10-toer is ‘n jaarlikse instelling waar die top tien akademiese leerders van graad 8-11 die geleentheid kry om in September op ‘n opvoedkundige toer te gaan. Dit strek oor vier dae en verskeie interessante plekke regoor Suid-Afrika word besoek. Dit is ‘n jaarlikse hoogtepunt waar harde werk beloon word.

SASIMA

Die Sasima is die amptelike skoolkoerant van die skool en bied aan leerders die geleentheid om kennis te maak met joernalistiek en bemarking. Die redaksielede bestaan uit graad 8 tot 12-leerders, en hulle kry die geleentheid om hulle kreatiwiteit en vaardighede te ontwikkel. Kundiges van die NWU se Joernalistiek-departement help met opleiding van die leerders. Gimmiegons word ook deur die redaksie behartig en as digitale platform gebruik om kompetisies te loods en inligting in te win.

Vir enige navrae, kontak gerus vir Elbie Buys by 082 092 6295.

Debat en Redenaars

Leerders se redenasievermoë en kreatiewe denke word deur redenaars, debat, public speaking en die spelling bee verryk. Dit verskaf aan die leerders ’n goeie platform om taal- en spelvaardighede, nie net in Afrikaans nie, maar ook in Engels, te toets en te verbeter. Die redenaars, debat en public speaking bied aan leerders die geleentheid om teen leerders van ander hoërskole in Noordwes deel te neem. Die onderwerpe toets die leerders se algemene kennis en motiveer hulle om navorsing te doen.

Vir enige navrae, kontak gerus vir René Rosslee by 082 822 9313 of Pikkie Marx by 082 867 5813.

ATKVonk

ATKVonk is ʼn jeugtak van die ATKV en een van 320 takke. Ons woeker al vir agt jaar in die gemeenskap. Ons is betrokke by liefdadigheidsprojekte, besoek ouetehuise, verleen hulp by behoeftige kleuterskole en het onlangs ons eie spekboomtuin aangelê. Lede leer op ʼn lekker manier verantwoordelikheid, respek vir ander, doen kennis op en kan nog kreatief ook wees. Vir enige navrae, kontak gerus Elbie Buys by 082 092 6295.

Mnr. en Mej. Gimmie

Hierdie jaarlikse gesellige, stylvolle geleentheid is definitief ’n hoogtepunt op die kalender. Soveel Gimmies as moontlik word aangemoedig om aan hieraan deel te neem, want dit dien as geesbou-aksie voor die Interhoër-atletiekbyeenkoms. Die glanspersoon, wat as seremoniemeester optree, veroorsaak altyd groot opgewondenheid by die leerders.

Personeel-
konsert

Gimmie-gees is só aansteeklik dat onnies een keer ‘n jaar saam laf kan wees en al te lekker uithaak! Die leerders skater van die lag wanneer die personeel hulle in snaakse uitrustings, wat uit hulle klerekas kom, vermaak.

Vlekvry

Vlekvry is ʼn geleentheid waar leerders elke Woensdag tydens pouse bymekaar kom om saam met ander gelowiges hulle liefde vir God en mekaar uit te leef om in ’n veilige omgewing in hul verhouding met Hom te groei. Dit wissel van aanbiddingsgeleenthede tot sprekers en kleingroep-gesprekke oor verskillende geloofsake saam met jeugleiers in die dorp.

Matriekafskeid

Die matriekafskeid is vir enige matrikulant ’n hoogtepunt in sy/haar skoolloopbaan. Hierdie spoggerige aand bied ‘n gulde geleentheid vir matrikulante om hul heel mooiste uitrustings aan te trek. Die leerders spog eers by Mooivallei-sportgronde met hul voertuie en uitrustings waar ouers en lede van die publiek na hul kan kyk en vandaar gaan hul na die venue. Elke jaar se afskeid het ’n tema en word by pragtige venues, in en om Potch, aangebied.

Musieksentrum

Hierdie sentrum streef daarna om musiekopvoeding van die hoogste kwaliteit aan te bied. Daar is ʼn entoesiastiese span onderwysers wat ʼn groot verskeidenheid instrumente, soos klavier, klawerbord, sang, elektriese kitaar, dwarsfluit, blokfluit, tromme en nog vele meer aanbied. Leerders presteer gereeld in eksterne musiekeksamens van UNISA, ABRSM en Trinity College, by kunstefeeste, musiekkonserte en informele optredes. Daar word ook teorieklasse vanaf beginner- tot gevorderde stadium aangebied.

Vir enige navrae, kontak gerus Anja Viljoen by 082 053 9246.

Sanggroepe

Die Pzaz! meisie-ensemble, W3-seunensemble, P’tite-ensemble en Andante, is van die sanggroepe wat jaarliks saamgestel word om tydens verskeie geleenthede op te tree. Daar is ook dans-ensembles wat tydens produksies optree.  Die Gimmie-Impromptu-orkes en vokale ensembles vermaak gewoonlik gehore tydens klassieke vertonings.

Kultuurweek en Eisteddfod

Die jaarlikse Eisteddfod bied nie net aan ons eie leerders nie, maar ook leerders van ander skole in Noordwes die geleentheid om hulself in die kunste uit te leef. Leerders kan in verskeie kategorieë deelneem naamlik fotografie, dans, sang, drama en instrumentaal. Alle Gimmies wat van beweging, musiek en drama hou, is welkom om aan die musiekproduksie of kultuurweek, wat onderskeidelik elke tweede jaar aangebied word, deel te neem. Leerders is self by die choreografie betrokke en kan hulle talent tydens hierdie geleenthede uitleef. Enige Gimmie wat passievol is oor dans, sang, drama en musiek, mag hieraan deelneem.

Graad 8-oriëntering

Alle graad 8’s deurloop jaarliks ‘n oriënteringsprogram wat deur die Gimmieraad hanteer word. Hierdie program word deur die beheerliggaam goedgekeur. Dit bied aan die leerders die geleentheid om die skool, tradisies, nuwe vriende en onderwysers op ’n prettige manier te leer ken.

Drama-, Kuns- en Dansakademie

Die Drama-, Kuns- en Dansakademie word deur buite-afrigters bedryf en is gratis vir Gimmie-leerders.

Kontak gerus vir

Dansakademie: Anchenique Papenfus by 079 308 0101

Dramaklub: Elbie Buys by 082 092 6295.

Kunsklub: Connie Pretorius by 083 417 414.

Kultuur- en sosiale video